Carolus Linnaeus

Carolus Linnaeus
botanikus
Carolus Linnaeus met die Linnaeusklokkie
Volledige naam
Gebore 23 Mei 1707
Oorlede 10 Januarie 1778
Geboorteland Swede
Bekend van
Standaardafkorting L.

Die aangeduide standaardafkorting kan gebruik word by die aanhaling van 'n botaniese naam gepubliseer deur Carolus Linnaeus.

In die Index Kewensis is 'n lys te vinde van deur hierdie persoon (mede-)gepubliseerde name

Carolus Linnaeus

Carolus Linnaeus (of, nadat hy tot die adelstand verhef was, Carl von Linné) (Råshult, Stenbrohult, Suid-Swede, 23 Mei 1707 - Uppsala, 10 Januarie 1778) was 'n Sweedse dokter, plantkundige (dit was daardie tyd dieselfde) en bioloog.

Hy is bekend as die “vader” van die stelsel van naamgewing in die biologie (taksonomiese rang) waarvolgens elke organisme (lewende dier, plant, swam, ens.) trapsgewys afwaarts ingedeel word by groepe wat met elke trap meer gespesialiseerd raak totdat die indeling uiteindelik aan die onderpunt in die organisme se spesie- of subspesienaam eindig. Vandag word die bopunt gevul deur die groep Lewe gevolg deur Domein reg daaronder, Ryk verder ondertoe, ens.

Carolus is gebore as Carl Linnaeus. Sy pa het aanvanklik geen familienaam gehad nie, soos destyds gebruiklik was, maar hy moes een hê toe hy hom by die Universiteit van Lund ingeskryf het. Geïnspireer deur die groot lindeboom by sy geboortehuis, het hy die woord linde verlatyns tot Linnaeus. Sy seun Carl het sy voornaam ook verlatyns tot Carolus, want baie van sy geskrifte was in Latyn.

Linnaeus se oorskot is die lektotipe vir die spesie Homo sapiens, volgens die Internasionale Kode van Dierkundige Benamings, want die enigste voorbeeld wat hy sover bekend ondersoek het toe hy die beskrywing van die spesie opgestel het, was homself.[nota 1]

Sy vader, die dorp se predikant en 'n geesdriftige natuurkundige, het Carolus se belangstelling in plante aangewakker. Na sy skoolopleiding is Linnaeus eers na die Universiteit van Lund en toe na die Universiteit van Uppsala om in die geneeskunde en die plantkunde te studeer.

By die Universiteit van Uppsala het hy bevriend geraak met prof. Olof Celsius, wat die jong student later aan invloedryke persone sou voorstel. In 1729 het Linnaeus 'n kopie van sy verhandeling, De sponsalia plantarum ("Bruilof van plante") aan Celsius geskenk. In die verhandeling het Linnaeus verduidelik dat blomme nie net as versiering vir plante dien nie, maar dat die stamper en meeldrade van die blomme 'n baie belangrike funksie as voortplantingsorgane het.

Destyds was dit ʼn radikaal nuwe konsep. Hierdie publikasie het aan Linnaeus bekendheid en status besorg, en op 23-jarige ouderdom is hy as lektor in Plantkunde aan die Universiteit van Uppsala aangestel. Die betrekking het Linnaeus in die geleentheid gestel om intensief met sy studie van plante voort te gaan, maar dit het sy mediese studie in die wiele gery.

Hy het begin met die ontwikkeling van 'n bevredigende klassifikasiesisteem, wat al die bestaande stelsels moes vervang. Daarby het hy die bou van die blomkroon, stampers en meeldrade nog verder beskryf. Gedurende 1732 het Linnaeus ʼn studiereis deur Lapland onderneem. Na aanleiding van sy navorsing gedurende die reis het hy die boek Flora Lapponica geskryf. In 1734 het hy sy toekomstige bruid, Sara-Lisa Moraea, ontmoet.

Haar vader het egter daarop aangedring dat Linnaeus eers sy mediese studie voltooi. Gevolglik het hy in 1735 na Hardewijk in Nederland vertrek, omdat akademiese kwalifikasies daar baie maklik verkry kon word. Hoewel sy studies voorkeur geniet het, het die botaniese tuine van Amsterdam en Leiden gou sy aandag getrek. Omdat Nederland in daardie tyd 'n sterk handelsmoondheid was, het voorbeelde van talle eksotiese plante in hierdie tuine beland.

Hier het hy die eerste keer met plante afkomstig van Suider-Afrika te doen gekry. Aanvanklik het Linnaeus as die assistent van prof. Johannes Burman gewerk, maar later het hy die persoonlike lyfarts van die skatryk bankier George Clifford geword. Die meeste van sy tyd is egter deur Clifford se herbarium, asook die versameling van tropiese en subtropiese plante in beslag geneem. Hy het egter genoeg tyd gehad om die boeke Systema naturae (1735; sy beroemdste werk), Fundamenta botanica (1736), Critica botanica (1737) en Hortus cliffortianus (1737) te voltooi.

Gedurende hierdie tydperk het hy ʼn aanbod om na die Kaap die Goeie Hoop te gaan om plante te versamel, van die hand gewys. Met hierdie geskrifte het Linnaeus groot beroemdheid verwerf wat aan hom talle aanbiedinge van oorsese reise besorg het. Hy het die aanbiedinge egter van die hand gewys, aangesien hy bang was dat hy Sara-Lisa deur 'n lang afwesigheid kon verloor. Linnaeus het na Swede teruggekeer, maar het op pad terug eers Parys aangedoen om die Jardin des Plantes te besoek.

In Stockholm het hy hom as dokter gevestig en is 'n rukkie daarna getroud. In 1742 het hy 'n professoraat aan die Universiteit van Uppsala aanvaar. Onder sy leiding het die plantkunde departement 'n bloeityd beleef. Hy het onder andere die botaniese tuin gereorganiseer, plantversamelings uitgebrei en sy studente op studiereise gestuur om verdere voorbeelde van plante en diere te versamel. Linnaeus se studente het na Noord-Amerika, Japan, Venezuela, Spanje, die destydse Palestina en Egipte gereis, en hy het self 'n aantal kort reise onderneem.

Hy het noue kontak met van sy studente aan die Kaap die Goeie Hoop gehad. Onder Linnaeus se leiding het een van sy studente, C.H. Wännman, 502 Kaapse plante beskryf, en ʼn ander, J. Printz, 107 Kaapse plante. Ongeveer 107 Kaapse plante is deur Linnaeus self beskryf. Van sy ander studente het die grondslag vir die tegniese name en die sistematisering van die Suid-Afrikaanse plante gelê. Ryk Tulbagh het 'n uitgebreide korrespondensie met Linnaeus gehad en ook talle voorbeelde van plante aan hom gestuur.

As blyk van vriendskap het Linnaeus die knoflok, genus Tulbaghia, en die bruin bergskoenlapper, Meneris tulbaghia, na Tulbagh vernoem. In 1762 is Linnaeus tot die adelstand verhef en het hy as ridder Carl von Linné bekend gestaan. Hy was na 'n beroerteaanval in 1774 gedeeltelik verlam en het op 10 Januarie 1778 in Uppsala gesterf. AI sy briewe, versamelings en sy biblioteek is na Londen gebring, waar dit in die besit van die Linnean Society gekom het. Sy botaniese tuin in Uppsala bestaan vandag nog, terwyl sy woning as museum ingerig is.
Verwysingfout: <ref> tags exist for a group named "nota", but no corresponding <references group="nota"/> tag was found


© MMXXIII Rich X Search. We shall prevail. All rights reserved. Rich X Search